Haat-misdade styg skerp in Oostenryk
2011-10-03 08:01
Innsbruck – Die getal haatmisdade wat deur regse ekstremiste in Oostenryk gepleeg word, het verlede jaar met 28% toegeneem.
Altesame 580 gevalle is aangemeld, vergeleke met 2009 se 453.
Dié statistieke word vervat in Oostenryk se veiligheidsverslag vir 2010 wat Dinsdag deur sy departement van binnelandse sake bekend gemaak is.
Die haatmisdade het onder meer gespruit uit vreemdelinghaat, rassisme, Islamfobie en anti-Semitisme, het Johanna Mikl-Leitner, minister van binnelandse sake, in ’n verklaring gesê.
Bykans die helfte (48,6%) van die haatmisdaadsake wat in 2010 aangemeld is, is opgelos.
Die misdade weerspieël die toename in Islamfobie die laaste jare in Oostenryk.
Die regsgesinde Vryheidsparty is daarvoor bekend dat hy dié en anti-Semitiese sentimente uitbuit om steun te werf.
Altesame 18 779 aansoeke om politieke asiel is volgens Mikl-Leitner in 2010 aangehoor, maar asiel is net in 2 977 sake toegestaan.
Oostenryk is ’n gewilde bestemming vir vlugtelinge van Afganistan, Pakistan, Irak, Iran en verskeie Afrika-lande.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld