HRW: China stil oor loodvergiftiging
2011-06-15 12:35
Sjanghai - Miljoene Chinese kinders ly aan loodvergiftiging en regeringsbeamptes probeer dié feit verdoesel, het die menseregtegroep Human Rights Watch (HRW) Woensdag gesê.
Dit kom ten spyte van die feit dat die Chinese regering sê hy is besig met ‘n veldtog om loodbesmetting te bekamp.
Gesondheidsbeamptes weerhou kinders van mediese sorg om die verspreiding van die probleem weg te steek, beweer HRW in sy verslag.
Die groep sê ook die land se regering maak nie fabrieke wat die besoedeling veroorsaak toe nie, en dwing boosdoeners ook nie om die kontaminasie skoon te maak nie.
“Kinders met gevaarlike vlakke lood in hul bloed word behandeling geweier en huis toe gestuur; na besmette huise in besoedelde dorpe,” het Joe Amon, die direkteur van gesondheid en menseregte by die groep, gesê.
Amptenare van die Chinese ministerie van gesondheid, werksveiligheid en omgewingsbeskerming wou nie op die aantygings reageer nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP