Gyseldrama in Alabama verby
2013-02-05 07:39
Midland City, Alabama – Die gyselaarsdrama in Alabama in die VSA is ná sewe dae verby.
Die vyfjarige seuntjie wat deur Jimmy Lee Dykes, 'n Viëtnam-veteraan, in 'n ondergrondse skuiling aangehou is, is ongedeerd ná die FBI hom tydens 'n klopjag bevry het.
Dykes is in die klopjag doodgeskiet.
Die seun, wat net as Ethan geïdentifiseer is, is volgens die plaaslike media ongedeerd, en speel en lag. Hy sal egter die aand in 'n hospitaal spandeer as voorsorgmaatreël.
Onderhandelings met Dykes het dae lank voortgeduur, maar die FBI se Steve Richardson het bevestig dat gesprekke sowat 24 uur voor die einde van die drama begin misluk het. Dykes is in dié tyd met 'n vuurwapen in die hand gesien. Hy het vroeër vir medikasie, inkleurboeke en speelgoed gevra.
Die drama het begin toe Dykes die bestuurder van 'n skoolbus doodgeskiet het, en Ethan ontvoer het.
Wally Olson, polisiehoof van die Dale-distrik, wou nie sê of die seun gesien het hoe sy ontvoerder doodgeskiet is nie.
"Hy's 'n baie spesiale kind. Hy is deur baie, en hy het baie verduur."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AP