Gryse gedwing om te ontklee op lughawe
2011-06-28 08:36
Washington – ’n Bejaarde vrou in ’n rolstoel wat na Michigan gevlieg het om daar te gaan sterf, is deur veiligheidsbeamptes op ’n lughawe gedwing om haar doek vir volwassenes te verwyder.
Me. Jean Weber, die vrou se dogter, het aan CNN gesê veiligheidsbeamptes het haar opdrag gegee om haar ma se doek in ’n openbare toilet te verwyder nadat hulle die 95-jarige vrou alleen in ’n kamer aangehou het.
Sy het probeer verduidelik dat haar ma aan leukemie ly.
“Ek het gesê sy gaan Michigan toe om dood te gaan. In daardie stadium kon ek net dink waarom doen hulle dit aan ’n 95-jarige vrou in ’n rolstoel?”
Weber was so ontsteld toe sy uit die toilet kom dat sy begin huil het en is toe self aangekeer.
“Ek het gehuil. Hulle het ge-voel ek is ’n veiligheidsrisiko,” het sy gesê.
Sy het ’n klag by die vervoer-veiligheidsagentskap ingedien.
Die agentskap het gesê hulle het “professioneel en volgens die regte prosedure opgetree”.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA