'Grootste massamoord nog' in Sirië
2012-07-13 08:41
Damaskus – Siriese regeringsmagte het meer as 150 mense om die lewe gebring in nóg 'n massamoord in een van die land se sentrale dorpe, het menseregte-aktiviste Vrydag beweer.
Die aanval, die jongste in 'n rits massamoorde in die land, het glo in die dorp Treimsa, in die sentrale provinsie Hama, plaasgevind, het die Siriese Waarnemers vir Menseregte (OHCHR) gesê.
'n Rebelleleier het beweer dat die dodetal dalk selfs 200 kan wees.
As die aanval in Treimsa bevestig word, sal dit soortgelyk aan die aanval in Houla op 25 Mei wees waarin pro-Assad-magte minstens 108 mense, insluitend vroue en kinders, om die lewe gebring het.
Rami Abdel Rahman, hoof van die OHCHR, het aan AFP gesê dat die lyke van 30 dorpenaars reeds uitgeken is.
"Party mense dink die aantal slagoffers is hoër, maar selfs op 150 kan dit die grootste massamoord nog in Sirië wees sedert die begin van die revolusie, veral wanneer jy in ag neem hoe klein die dorpie is," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP