Griekse eerste minister bedank
2011-11-07 12:03
Athene - Die Griekse eerste minister, George Papandreou, het bevestig dat hy uit sy pos sal bedank as deel van 'n ooreenkoms om 'n regering van nasionale eenheid te vorm om die land se skuldkrisis te pak, het RSG Maandag berig.
Die nuus is bekendgemaak in 'n verklaring van die kantoor van die Griekse president, Karolos Papoulias.
Die president het vroeër 'n vergadering met Papandreou en die hoofopposisieleier, Antonis Samaras, belê.
Verdere besonderhede oor die vergadering is nie bekend nie.
Opposisiepartye het tot dusver min gewilligheid getoon om Griekeland se ekonomiese, politieke en maatskaplike krisis te takel.
Volgens vroeëre berigte is die minister van Finansies, Evangêlos Venizelos, agter die skerms besig om met kleiner partye samesprekings te voer vir 'n regering wat Venizelos self wil lei.
– RSG
– Volg Nuus24 op Twitter