Griekse anargiste kry 37 jaar vir briefbomme
2011-07-19 19:27
Athene – ‘n Hof hier het twee Griekse anargiste wat briefbomme aan Europese leiers, onder wie die Duitse kanselier, Angela Merkel, gestuur het, elk tot 37 jaar tronkstraf gevonnis.
Haralambos Hatzimihelakis en Panayiotis Argyros, albei 23 en deel van die Conspiracy of Nuclei-groep, is in ‘n spesiale hof skuldig bevind aan “die vorming en deelwees van ‘n terroristegroep”.
Hulle is in die uitspraak skuldig bevind daaraan dat hulle in 2009 ‘n bomaanval op die Griekse minister van binnelandse sake, Panayotis Hinofotis, se huis, asook die voormalige sosialistiese minister, Louka Katseli, beplan het.
Altesaam ses lede van die groep, insluitend die twee mans, is skuldig bevind aan ekstremistiese dade.
Die berugte groep was in Novermber verlede jaar in die kollig nadat hulle ‘n reeks briefbomme aan buitelandse ambassades in Griekeland én aan vier Europese leiers, onder wie Merkel, die Franse president, Nicolas Sarkozy, die Italiaanse eerste minister, Silvio Berlusconi en die hoof van die Europese kommissie, Jose Manuel Barroso, gestuur het.
Die briefbomme kon deur die polisie onderskep word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP