Griekeland dalk uit eurosone gestoot
2011-09-07 09:03
Den Haag – Die ondenkbare word ernstig oorweeg – om Griekeland uit die eurosone te stoot.
Europese leiers beraadslaag sedert Vrydag intensief agter die skerms. Duitsland se bondskanselier, dr. Angela Merkel, en pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk het die afgelope paar dae verskeie kere telefonies beraadslaag, berig Europese media.
Dinsdag het die Nederlandse minister van finansies, Jan Kees de Jager, na Berlyn gevlieg om met sy Duitse eweknie, Wolfgang Schäuble, te beraadslaag.
Dit volg op die mislukte gesprek verlede Vrydag tussen die Europese Kommissie en die Griekse regering oor laasgenoemde se staatskuld, wat nou sowat 180% van sy binnelandse bruto produk bedra.
Dit het geblyk die Grieke is nie in staat of gewillig om hul beloftes oor drastiese besnoeiings na te kom nie.
In die openbaar hou Europese leiers steeds vol ’n oplossing moet gevind word sodat Griekeland deel van die eurosone kan bly.
Maar agter die skerms oorweeg waarnemers die moontlikheid dat die land dalk uit die eurosone gestoot kan word en na die dragma sal moet terugkeer.
Vandag gebeur nog ’n sleutelgebeurtenis wat die eoro se toekoms kan bepaal.
Die Duitse grondwetlike hof moet beslis of die wyse waarop oor die reddingsfonds van etlike miljarde euro’s vir noodlydende lande soos Griekeland besluit is, in ooreenstemming met die grondwet is.
’n Groep sakelui het voor die hof aangevoer net die Bundestag – die Duitse parlement – kan daaroor besluit, en nie die uitvoerende gesag in oorleg met ander regerings nie.
Luidens berigte in Duitse media dreig ’n opstand onder parlementslede van die regerende koalisie van Christen-Demokrate en liberale.
Daar is ’n goeie kans dat Merkel en haar regering ’n nederlaag sal ly as die Bundestag oor die saak stem.
In Nederland het ’n invloedryke afgetrede politikus, Frits Bolkestein,dié naweek baie mense se gevoelens verwoord toe hy gesê het Europa kan nie onbepaald voortgaan om miljarde te bestee om die spandabelrige Grieke uit die verknorsing te red nie.
Die Duitse dagblad Die Weltsê in ’n hoofartikel dit het weinig sin om nuwe eise aan die Grieke te stel, want hulle sal dit tog nie nakom nie. Griekeland moet eerder van die res van die eurosone geïsoleer word. Die Grieke moet die gevolge van hul roekeloosheid dra, sê die dagblad.
Waarnemers sê dit is in dié stadium onduidelik wat die gevolge sal wees as Griekeland uit die eurosone gestoot word.
Die ergste scenario is dat Italië, Spanje, Portugal, Ierland en selfs België dalk sal volg.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger