Giftige slange, bekke toegestik, op trein gevind
2011-05-30 13:47
Hanoi – Spoorweëbeamptes het giftige koningkobras in sakke onder ‘n sitplek op ‘n trein in Viëtnam gevind.
Pham Quynh, 'n spoorwegbeampte, sê passasiers was angsbevange toe vier sakke wat die slange bevat het, Vrydag opgespoor is.
Die slange was lewendig maar hul monde was toegestik.
Quynh sê dit is onduidelik hoeveel slange op die trein was, maar die sakke het 45 kg geweeg.
Luidens berigte het sekuriteitspersoneellede die kobras, wat waarskynlik na restaurante in Hanoi onderweg was, verwyder.
Die eienaar van die slange het na bewering in die chaos gevlug.
Slangvleis word dikwels vir fynproewers in Viëtnam opgedis, maar kobras word deur die wet beskerm.
Quynh sê die kobras is aan veldwagters oorhandig en in die natuur vrygelaat nadat niemand hulle geëis het nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP