Gewese Maddie-speurder vas
2009-11-25 11:13
Londen – ‘n Privaatspeurder wat verdwyn het nadat hy klaar betaal was om na die vermiste Britse kleuter, Madeleine McCann te soek, is in Engeland gearresteer, nadat hy reeds deur die Amerikaanse polisie gesoek was.
Dié Britse burger is deur die Amerikaanse federale speurdiens gesoek oor beweerde korrupsie, wat nie verwant is met die soektog na Madeleine nie. Hy is laat Dinsdag in Oxford, suid van Engeland in hegtenis geneem, oor ‘n onbetaalde hotelrekening.
“Ons het ‘n 48-jarige man gister by die Old Bank Hotel in Oxford gearresteer. Daar was teenstrydighede met sy hotelrekening,” het die Thames Valley polisie gesê, sonder om die man se identiteit bekend te maak.
Die man se maatskappy in Amerika was in 2008, $498 000 (sowat R4 miljoen) betaal om speurwerk te doen, en moontlike plekke waar Madeleine glo al gesien was, te ondersoek. Maar hy het toe verdwyn en die ondersoek is gestaak omdat daar geen vordering was nie, het verslae gesê.
Duisende Britte het geld aan ‘n fonds geskenk in 'n poging om die vermiste meisie op te spoor.
Die Amerikaanse sakeman, wie se maatskappy se hoofkantore in Washington is, is gesoek nadat hy glo ‘n regsfirma met 1,2 miljoen pond (sowat R12 miljoen) verneuk het.
Madeleine was amper vier jaar oud toe sy op 3 Mei 2007 van haar familie se vakansie woonstel in Portugal verdwyn het. Haar ouers het ten tyde van die voorval uitgeëet met vriende.
Ten spyte van ‘n grootskaalse ondersoek deur die Portugese en Britse polisie, en wye mediadekking, is sy steeds nie gevind nie.
Portugese polisie ondersoek nie meer die saak nie, maar ondersoekbeamptes wat namens Madeleine se ouers optree, soek steeds na haar.
‘n Woordvoerder vir die McCann-familie het gesê hul verbintenisse met die sekuriteitskonsultant het reeds ‘n jaar gelede tot ‘n einde geloop.
- Sapa