Geweld ontsier betoging in Athene
2011-10-19 17:41
Athene – Geweld het die massa-betoging in Athene wat
Griekeland feitlik tot stilstand gedwing het, ontsier toe die polisie en
betogers buite die parlement gebots het.
Volgens die owerhede het 70 000 mense aan die
optog deelgeneem.
Die vakbonde sê egter daar was ongeveer 200
000 mense wat na Syntagma-plein in die middestad van Athene gestroom het.
Vier mense, insluitende twee polisiebeamptes, is tydens die betoging beseer, het een van die ambulansdienste gesê.
Volgens die polisie is vier jeugdiges in Athene in
hegtenis geneem toe hulle met petrolbomme betrap is.
Die polisie het met traangas orde probeer
handhaaf, maar die vreedsame betogers het geweier om Syntagma-plein te verlaat.
Sowat 200 jeugdiges het egter die versperrings
voor die Griekse parlement bestorm, waarna ‘n skermutseling tussen die polisie
en betogers uitgebreek het.
Gevegte het ook buite ‘n ry luukse hotelle, wat
uitkyk oor die plein, uitgebreek toe ‘n groep betogers ‘n winkel se ruite uitgebreek het.
Intussen het ‘n groep van sowat 100 betogers
in Thessaloniki staatsgeboue met petrolbomme bestook.
Die oorgrote meerderheid van die betogers in
Athene, Thessaloniki, Patras, Heraklion en ander Griekse stede was egter
vreedsaam.
Die stakers betoog teen sommige maatreëls wat
binnekort in die parlement goedgekeur kan word.
Die maatreëls behels onder meer
salarisverminderings en ‘n toename in belasting.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP