Gesin treur oor 'geliefde' verpleegster
2012-12-08 14:44
Londen – Die familie van die verpleegster wat selfmoord gepleeg het te midde van 'n mediastorm oor 'n fopoproep oor die hertogin van Cambridge, het gevra dat hul privaatheid gerespekteer word terwyl hulle haar dood probeer verwerk.
"Ons as 'n gesin is diep hartseer oor die verlies van ons geliefde Jacintha," het die familie in 'n verklaring gesê.
Jacintha Saldanha, wat glo 'n ma van twee kinders is, het die telefoon beantwoord toe omroepers van Sydney se 2Day FM gebel het en die stem van koningin Elizabeth II en prins Charles nagemaak het. Saldanha het toe die telefoon aan 'n kollega gegee en dié het toe inligting oor Catherine se gesondheid aan hulle verskaf.
Saldanha se lyk is Vrydag gevind en die polisie het gesê haar dood word nie as verdag beskou nie. Die hospitaal weier om kommentaar te lewer op mediaberigte dat sy selfmoord gepleeg het.
Die koninklike familie het nie gekla oor die voorval nie, maar dit het 'n mediastorm veroorsaak en John Lofthouse, hoof- uitvoerende beampte van die hospitaal, het gesê personeel het Saldanha "deur die moeilike tyd" probeer help.
Die radiostasie het Saterdag gesê die omroepers, Mel Greig en Michael Christian, is "albei diep geskok" oor die nuus van die verpleegster se dood.
2Day FM en sy eienaars, Southern Cross Austereo, het in 'n verklaring gesê die radiostasie en die omroepers "het besluit dat hulle uit respek vir wat as 'n tragedie beskryf kan word, nie na hul radioprogram sal terugkeer nie".
"Ons innige meegevoel aan haar familie en diegene wat wêreldwyd deur die situasie geraak word."
Intussen het prins William en Catherine gesê hulle is hartseer oor Saldanha se dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP