Gemeenskap besluit oor Sandy Hook-laerskool
2013-01-14 16:20
Newtown – Onderhandelinge oor die toekoms van die Sandy Hook-laerskool het begin.
Belanghebbendes moet besluit of leerders en onderwysers ooit weer na die gebou sal terugkeer waar 20 kinders en ses onderwysers op 14 Desember doodgeskiet is.
Party inwoners van Newtown voel dat die skool gesloop moet word en dat ‘n gedenkteken op die eiendom gebou moet word.
Ander glo weer dat die skool opgeknap moet word en dat die gebiede waar die skietery plaasgevind het, omskep word.
‘n Openbare vergadering oor die toekoms van die gebou het Sondag sowat 200 mense getrek, met nog ‘n vergadering wat vir Vrydag geskeduleer is.
Amptenare beplan ook private vergaderings met die slagoffers se families om hulle insette te kry.
Die meeste mense by Sondag se vergadering het gevra dat die skool opgeknap word.
“Ons het van ons beste tye by Sandy Hook-laerskool gehad en ek glo nie dat een psigopaat die kans gegun moet word om meer weg te vat as wat hy al klaar gedoen het nie,” het Mergim Bajraliu, ‘n oud-leerder van Sandy Hook, gesê.
“Ons kan nie maak asof dit nooit gebeur het nie, maar ek is nie bereid om my kinders te vra om weg te kruip nie. Julle kan nie hulle skool wegvat nie,” het Audrey Bart, wat twee kinders in die skool het, gesê.
Honderde kinders wat die skietery oorleef het, het intussen na ‘n ander gebou teruggekeer om klas te loop.
Die skieter, Adam Lanza, is onlangs begrawe.
Lanza het op die kinders en onderwysers losgebrand nadat hy sy ma, Nancy, in hul woning doodgeskiet het. Hy het later selfmoord gepleeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP