Geen verhoor vir 'onverantwoordbare' Oslo-skieter
2011-11-29 13:49
Oslo – Anders Behring Breivik kan nie verantwoordbaar vir sy dade gehou word nie en sal nie tot gewone tronkstraf gevonnis word nie, lui berigte.
Die verdagte is “onbevoeg” verklaar nadat psigiaters ‘n 230 bladsy-lange assessering van Breivik aan ‘n hof in Oslo, Noorweë, voorgelê het.
Luidens die BBC word die verslag op 13 gesprekke met die massamoordenaar gebaseer.
Sky News berig Breivik sal nie verhoor word nie en sal tot behandeling by ‘n psigiatriese hospitaal gevonnis word.
Breivik se prokureur het hom destyds as ‘n koue, paranoïese “krygsman” beskryf.
“Dit wil voorkom of hy kranksinnig is,” het Geir Lippestad destyds oor Breivik gesê.
Breivik (32) het erken dat hy op 22 Julie vanjaar 77 mense in ‘n skietvoorval en bomaanval gedood het, maar het skuld op dié dade ontken.
Hy het ‘n kragtige motorbom by die Noorse regeringsgebou in Oslo laat ontplof. Agt mense is dood in dié ontploffing.
Daarna het hy na die eiland Utøya gegaan, waar die jeugafdeling van die regerende Sosiaal-Demokratiese Party ‘n kamp gehou het, en 69 jong mense koelbloedig daar afgemaai.
Volg Nuus24 op Twitter