Geen rook meer in Nieu-Seelandse tronke
2010-06-28 11:25
Wellingon, Nieu-Seeland - Rook in Nieu-Seelandse tronke sal van 1 Julie 2011 streng verbode wees, het Judith Collins, dié land se minister van korrektiewe dienste, Maandag gesê.
Collins het dié aankondiging gemaak te midde van vrese dat so 'n stap tot gewelddadige opstande kan lei.
Ongeveer 5 700 gevangenes, twee derdes van alle gevangenes, rook.
Dié gevangenes sal oor die volgende 12 maande kursusse loop, en selfs nikotienplakkers ontvang, om hulle te help om die rookgewoonte te oorwin.
"Die hoë vlak van rook in ons tronke hou 'n ernstige bedreiging in vir personeel en gevangenes," het Collins gesê.
Sy het bygevoeg dat dit onregverdig is dat 3 500 personeellede in die korrektiewe departement nie die beskerming geniet teen rookinaseming wat werkers in ander sektore geniet nie.
Intussen het Kim Workman, 'n voormalige hoë in Nieu-Seelandse regskringe, en huidige hoof van die Rethinking Crime and Punishment-organisasie, gewaarsku dat die besluit tot "geweld of chaos van die een of ander soort kan lei."
Volgens Workman sal dié wet veral vir nuwe gevangenes, wat reeds sukkel met onttrekkingsimptome wat verband hou met alkohol en dwelms, 'n groot uitdaging wees.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA