Geen onderhandelings met ontvoerders van Franse familie
2013-02-26 14:15
Parys – Frankryk se minister van verdediging het Dinsdag gesê die land sal nie onderhandel met die groep wat ‘n Franse familie in Kameroen ontvoer het nie.
Dit volg nadat ‘n video van die gyselaars op YouTube verskyn het.
“Ons onderhandel nie op hierdie terme met hierdie groepe nie,” het die minister, Jean-yves Le Drian, in ‘n radio-onderhoud gesê.
“Wat ons doen is om alle moontlike middele te gebruik om die vrylating van die gyselaars te verseker, of dit hierdie [gyselaars] of ander is,” het hy gesê.
“Maar ons speel nie hierdie speletjie nie, want dit is terrorisme.”
Die video van die sewe lede van die familie saam met hulle ontvoerders het Maandag op YouTube verskyn. Die ontvoerders beweer hulle is deel van die Islamitiese ekstremiste groep Boko Haram, en eis dat van lede van die groep wat gevange geneem is, vrygelaat moet word.
Die familie – ‘n pa, ma, vier kinders wat tussen vyf en 12 jaar oud is, sowel as die kinders se oom – is op 19 Februarie ontvoer terwyl hulle ‘n nasionale park in Kameroen besoek het.
Volgens bewerings is hulle sedertdien oor die grens na Nigerië geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP