Gebou tuimel ineen
2009-08-16 18:03
Doebai- ‘n Agtverdieping-gebou wat onder konstruksie was in sentraal Doebai het Sondag ineengestort, berig die plaaslike media.
Dit is nog nie bekend of enigiemand in die voorval beseer is nie, maar ‘n paar motors wat naby geparkeer was is verwoes.
Die gebou wat in die Deira-buurt is, het omstreeks 16:00 ineengestort het die Khaleej koerant berig.
Volgens ‘n sekuriteitswag was daar geen werkers op die bouperseel ten tyde van die voorval nie. Maar hy kon egter nie bevestig of iemand beseer is nie.
Kantoorwerkers wat naby die gebou was tot dit ineengestort het vertel dat hulle ‘n ligte skudding, soortgelyk aan ‘n aardbewing, ervaar het.
‘Ek werk sowat 400m van die gebou af en het die skudding gevoel. Dit het baie soos ‘n aardbewing gevoel,” het Zainudheen Parissery, aan die plaaslike media gesê.
Nooddienswerkers was spoedig op die toneel. Die oorsaak van die ineenstorting is nog nie bekend nie.
–Sapa, dpa