Gay vlootoffisier trou met lewensmaat
2011-09-21 08:03
Washington – ’n Amerikaanse vlootoffisier en sy lewensmaat van die afgelope 11 jaar is Dinsdag presies om 00:01 (Amerikaanse tyd) getroud.
Lt. Gary Ross (33) het dié spesifieke tyd gekies om met Dan Swezy (49) in die huwelik te tree, want ’n Amerikaanse wet van 18 jaar – wat gays en lesbiërs verbied het om openlik in die weermag te dien – is presies op dié tyd herroep.
Oudpres. Bill Clinton het die wet “Don’t Ask, Don’t Tell” (DADT) in 1993 afgekondig. Kragtens dié wet mag gay mense slegs in die weermag dien as hulle hul seksualiteit geheim hou en die weermag nie daarvan uitvind nie.
Die VSA het vroeër ’n algehele verbod op gays in die weermag gehad.
Clinton wou dié verbod heeltemal ophef, maar weens teenstand van militêre leiers het hy as ’n kompromis op DADT besluit.
Volgens die gayregte-organisasie Servicemembers Legal Defense Network is tot soveel as 14 000 gay soldate die afgelope 18 jaar weens DADT uit die weermag geskors.
Pres. Barack Obama het in 2008 op sy verkiesingsveldtog beloof om die wet om te keer en die Amerikaanse kongres het in Desember verlede jaar gestem om DADT te herroep.
George Little, die Pentagon se woordvoerder, het verlede week gesê die weermag het sy beleid sedertdien hersien en 2,25 miljoen van sy personeellede – 97% van die weermag – het opleiding ondergaan om die oorgang te vergemaklik.
Volgens ’n interne opname deur die Pentagon wat verlede jaar bekend gemaak is, steun twee derdes van alle weermagpersoneel die herroeping van DADT.
Die herroeping van die wet beteken alle huidige ondersoeke, skorsings en ander stappe teen gay soldate wat kragtens DADT begin is, word ook nietig verklaar.
Die pad na die wet se herroeping is ook moontlik gemaak deur jare se hofgedinge en politieke aktivisme, asook die feit dat talle van die VSA se Navo-bondgenote lank reeds gay soldate in hul weermagte toegelaat het.
Ross het gesê hy is opgewonde daaroor dat DADT uiteindelik herroep is.
Hy het ook gesê hy is van plan om ’n lang loopbaan as ’n openlik gay man in die weermag te hê.
– Sapa-AFP, www.huffingtonpost.com, www.guardian.co.uk
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger