Gay-troues weer welkom in Kalifornië
2010-08-05 14:21
San Fransisco - ‘n Federale regter het Kalifornië se verbod op gay huwelike Woensdag omgekeer – die laaste wending in ‘n sage wat verreikende implikasies vir dié verdelende kwessie kan hê.
Regter Vaughn Walker het ten gunste van aktiviste vir gay regte, wat ‘n November 2008-referendum wat gay-troues verbied het as diskriminerend en ongrondwetlik bestempel het, bevind.
Die referendum, bekend as Proposisie 8, het destyds met ‘n 52%-meerderheid ten gunste van ‘n verbod op gay huwelike bevind. Dit was skaars ses maande nadat ‘n vorige verbod op gay huwelike gelig is en ‘n magdom gay paartjies na die staat gestroom het om te trou.
“Die bewyse dui daarop dat Proposisie 8 niks meer doen as om die gedagte dat teenoorgestelde-geslag-paartjies beter as gay paartjies is in Kalifornië se grondwet in te ets nie,” het Walker geskryf.
Kalifornië se (Republikeinse) goewerneuer, Arnold Schwarzenegger, het die bevinding verwelkom en dit as ‘n “mylpaal in Amerika se tog na gelykheid en vryheid vir almal” bestempel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP