Gay marteling, moorde styg
2009-08-17 12:58
Beirut, Libanon – Human Rights Watch (HRW) het gesê geweld teen gay mans in Irak is besig om toe te neem, maar die land se regering doen niks om dit te stop nie.
In ‘n verslag wat Maandag in Libanon uitgereik is, sê die menseregtegroep honderde Irakse mans is hierdie jaar ontvoer, gemartel en doodgemaak in ‘n golf van geweld teen gays.
Die verslag het egter bygevoeg dat dit onmoontlik is om presies te weet hoeveel mans sover die slagoffers van geweld teen gays in Irak is.
Die golf het glo in Sadr-stad, ’n vesting van die militante geestelike groep Mahdi, begin.
Woordvoerders vir Mahdi het al in die verlede gesuggereer dat militêre optrede die oplossing is vir die “vervrouliking” van Irakse mans, het die verslag gelees.
Dit maak ook getuienis bekend van mans wat beskryf hoe milisie-vegters huise binnegaan, slagoffers ondervra en dan doodmaak om ander potensiële teikens uit te vis.
Van dié moorde word glo deur familielede uitgevoer om die eer van die familie te beskerm.
-Sapa-AFP