Gasa-skietstilstand: Egipte bemiddel
2012-11-22 07:12
Gasastad – 'n Skietstilstand tussen Hamas en Israel om die konflik in die Gasastrook te beëindig, het Woensdagaand in werking getree ná agt dae van die hewigste gevegte in die afgelope vier jaar.
Egipte, wat die skietstilstand bemiddel het, sal volgens die ooreenkoms wat bereik is 'n sleutelrol speel in die handhawing van vrede in Gasa.
Amerika se minister van buitelandse sake, Hillary Clinton, het tydens Woensdagaand se nuuskonferensie in Kaïro gesê dat die ooreenkoms "die inwoners van Gasa se omstandighede sal verbeter en sekuriteit aan die mense van Israel sal gee."
Israel se premier, Benjamin Netanyahu, het gesê hy het tot die skietstilstand ingestem nadat hy met pres. Barack Obama gekonsulteer het.
Altesaam 126 Palestyne het in die afgelope week se gevegte gesterf, die meeste van hulle burgerlikes.
Onder die sterfgevalle was 27 kinders. Drie Israeli’s het verlede week in ’n vuurpylaanval gesterf.
Volg Nuus24 op Twitter.