Fucking Hell, dié bier gaan lekker wees
2010-03-30 08:58
Den Haag - Een van die dae sal Duitse en Oostenrykse bierdrinkers vrolik kan raak met ’n glas Fucking Hell.
Nee, dit is nie ’n vloekwoord nie. Die bier gaan gebrou word in die Oostenrykse dorpie Fucking, nie ver van die Duitse grens nie.
’n Duitse firma is van plan om ’n brouery te begin in die slaperige Fucking (90 inwoners), deel van die munisipaliteit van Tarsdorf in Opper-Oostenryk.
Die Europese kantoor vir etikette en patente het die aansoek vir die naam eers afgekeur.
Die Duitse bierbrouers het daarop appèl aangeteken by die Europese Unie se kamer van appèl, wat in Alicante, Spanje, gesetel is. Dié het geoordeel dat etiketname nie alte preuts hoef te wees nie.
Volgens die webwerf van die Oostenrykse televisie is die naam van die dorp vermoedelik van die eienaam “Focko” afkomstig.
Die Bayerische Kurier skryf na aanleiding daarvan dat die inwoners van die munisipaliteite Kissing en Petting in Beiere en Pissen in Sakse-Anhalt dalk nou ook wêreldwye aandag op hulle kan vestig.
- Die Burger