Franse vroue beboet ná hul gesigsluiers dra
2011-09-22 15:15
Parys – ‘n Franse hof het twee vroue veroordeel nadat hulle Islamitiese gesigsluiers in die openbaar gedra het.
Hind Ahmas (32) en ‘n ander vrou se skuldigbevinding is die eerste veroordeling sedert ‘n verbod op dié gesigsluier in April in werking getree het.
Die hof in Meaux – ‘n dorp wat sowat 40 km oos van Parys geleë is – het die vroue Donderdag beboet nadat hulle op 5 Mei buite die plaaslike stadsaal niqabs gedra het, het hul prokureur, Gilles Devers, aan die Duitse nuusagentskap dpa gesê.
Dié spesifieke tipe gesigsluier het ‘n openinge by die oë en bedek die hare en gesig.
Devers sê Ahmas is €120 (sowat R1 300) beboet en die ander vrou het ‘n boete van €80 (omtrent R880) gekry.
Hy sê hy gaan die vroue se skuldigbevinding appelleer en beweer die verbod skend vroue en basiese regte.
“Die probleem is nie die boete nie. Die probleem is dat hierdie vroue effektief onder huisarres is. Dís die regte straf,” het Devers gesê.
Frankryk was die eerste Europese land om die Islamitiese gesigsluier in die openbaar te verban.
Sedert die wet in werking getree het, het die polisie reeds tientalle vroue in gesigsluiers aangemeld. Geen van dié vroue het tot dusver in die hof verskyn nie.
Ahmas het destyds gesê sy hoop sy kry ‘n boete, sodat sy die wet kan aanvat. Sy beskou dié verbod as ‘n aanval op haar vryheid van geloof.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA