Franse vrou dra burka ten spyte van nuwe wet
2011-04-11 14:25
Avignon – ‘n Jong vrou het Maandag ‘n burka gedra om ‘n verbod op dié Islamitiese gesigsluiers in die openbaar uit te daag.
Die nuwe wet het Maandag in werking getree.
Kenza Drider (32) het Maandagoggend van Avignon per trein na Parys gereis om op ‘n televisieprogram te verskyn.
“Ek is uitgenooi om deel te neem aan ‘n televisieprogram... Vandag is 11 April, die eerste dag wat die verbod toegepas word,” het sy aan verslaggewers gesê voordat sy aan boord te trein geklim het.
“Hierdie wet skend my Europese regte,” het die vrywillige werker en ma van vier gesê.
Frankryk, waar Europa se grootste Moslem-bevolking woon, is die eerste Europese land wat die risiko loop om sosiale spanning te veroorsaak deur die burka te verban.
“Volgens dié wet moet my vrou nou in die huis afgesonder bly,” het Drider se man, Allal, gesê.
“Sy het reeds dertien jaar lank ‘n sluier gedra en dit het niemand geskok nie,” het hy bygevoeg.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP