Franse skieter was 'n 'talentvolle' seun
2012-06-12 21:09
Parys – Die gewapende man wat sewe mense in Frankryk doodgeskiet het, was ‘n talentvolle student wat moeilike kinderjare en tekens van gewelddadige neigings gehad het, het die Franse koerant Le Monde Dinsdag volgens ‘n polisie-ondersoek berig.
Mohamed Merah is op 22 Maart deur die polisie doodgeskiet ná 32 uur se onderhandelings by sy woonstel in die suide van die Franse stad Toulouse.
Die 23-jarige het drie soldate en drie kinders, sowel as ‘n onderwyser, by ‘n Joodse skool doodgeskiet in ‘n rits moorde wat die land geruk het.
Merah se pa het die familie vroeg in sy lewe verlaat en het hom by sy ma, Zoulikha Aziri, en sy ouer broer, Abdelkader, gelos. Hulle is aangekla in verband met die moorde.
In 2000, toe Merah in graad ses was, het hy goed gedoen in sy vakke, maar sy gedrag was “te gereeld onaanvaarbaar”, het sy rapporte en verslae van maatskaplike dienste getoon.
Merah “sal wil hê sy ma moet meer tyd en aandag aan hom gee (maar) hy dink sy is te besig met Abdelkader,” het een verslag gesê.
Aziri het twee jaar later aan maatskaplike dienste erken dat Merah gewelddadig geword het.
“Hy het my geslaan, gebyt, die yskas op die vloer leeggemaak, alles gebreek... ek kan nie met hom raas nie of hy hardloop weg of beledig my voor almal en verneder my,” het sy aan een maatskaplike werker gesê, het die koerant berig.
Merah is in ‘n pleegsentrum geplaas, maar sy probleme het voortgeduur.
“Hy het die meisies beledig... wat ons gevra het om hulle te beskerm en hul kamerdeure te sluit,” het een van die departementshoofde van die sentrum gesê.
“Ons moet elke dag intree vir ‘n diefstal, konflik of aanranding waarby Mohamed betrokke is.”
Hy is in die hoërskool deur die hoof beskryf as ‘n “besonders talentvolle” student “wat die risiko loop om ‘n gevaarlike adolessent te word in verwysing na sy intellektuele vaardighede”.
Merah het as ‘n tiener gereeld gedreig om selfmoord te pleeg en het verskeie kere met amptenare gebots.
Merah se pa het ‘n moordklag in Parys ingedien oor die dood van sy seun tydens die skietery, het sy prokureurs Maandag gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP