Franse sal finale besluit oor sluiers neem
2010-09-12 14:35
Parys - Franse wetgewers sal Dinsdag finaal stem oor 'n wet wat vrouens sal verbied om hul gesigte in die openbaar met sluiers te bedek.
Die grondwetlike hof mag egter die omstrede wetgewing ongrondwetlik verklaar voordat dit bekragtig word.
Die Nasionale Vergadering het reeds in Julie ten gunste van die wet gestem met 335 stemme teen een. Nou is dit die Senaat se beurt.
President Nicolas Sarkozy se vasberadenheid om die sluiers te verban het baie steun gewen. Teenstanders meen egter dit verbreek Franse en Europese menseregte-wetgewing.
Die wet definieer "openbare areas" in breë terme. Dit sluit nie net regeringsgebou en openbare vervoer in nie, maar ook alle strate, markte, private besighede en ontspanningsgeriewe.
Sosialistiese en Kommunistiese lede van die Nasionale Vergadering het nie teen die wet gestem nie, maar eerder hul reg uitgeoefen om glad nie te stem nie.
Soortgelyke wetsontwerpe is hangende in België, Spanje en sekere Italiaanse munisipaliteite.
- SAPA