Franse regering sien rooi oor dagga
2012-10-15 15:17
Parys – Frankryk se regering het dit Maandag weereens duidelik gemaak dat hy dit nie sal oorweeg om dagga te wettig nie, na die minister van onderwys gevra het vir ‘n debat oor die kwessie.
Vincent Peillon, Franse minister van onderwys, het Sondag die kwessie geopper en gesê dat die wettiging van dagga ‘n ernstige vraagstuk is wat ‘n debat regverdig.
Jean-Marc Ayrault, Frankryk se premier, het egter volgehou dat die regering se beleid nie sommer sal verander nie.
“Die premier het vanoggend per telefoon met Peillon gesels en bevestig dat dagga nie gewettig sal word nie,” het Ayrault se kantoor gesê.
“Dit is die moeite werd om die vraag te vra en ek is partykeer geskok om te sien hoe ver agter Frankryk is met hierdie kwessie, wat ‘n belangrike saak is,” het Peillon Sondag tydens ‘n radio-uitsending gesê.
Peillon het later in ‘n verklaring gesê dat sy kommentaar sy eie opinie was, en dat hy nie probeer het om die regering te ondermyn nie.
Francois Fillon, die voormalige Franse premier, het Peillon se kommentaar as onverantwoordelik en gevaarlik bestempel.
“Die verbod op dagga in Frankryk bly steeds belangrik en noodsaaklik om ons kinders te beskerm,” het Fillon gesê.
Jean-Francois Cope, leier van die UMP-party, het pres. Francois Hollande gevra om te reageer op die minister se kommentaar.
“Die wettiging van sogenaamde sagte dwelms is onaanvaarbaar,” het Cope gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP