Franse reddingspoging in Somalië loop skeef
2013-01-12 10:44
Mogadisjoe – Minstens twee burgerlikes is dood toe helikopters wat vermoedelik aan die Franse weermag behoort, 'n Al-Shabaab-basis in 'n dorpie in die suide van Somalië aangeval het.
Die aanval was waarskynlik 'n poging om 'n Franse gyselaar te bevry, het rebelle en 'n Somaliese amptenaar gesê.
Franse amptenare het nie die reddingspoging onmiddellik bevestig nie.
Owerhede in Bula Mareer, 'n dorp ongeveer 120 km suid van Mogadisjoe, het gesê helikopters het Saterdagoggend vroeg in die gebied aangekom. Die doel was vermoedelik om 'n Franse gyselaar te bevry wat in 2009 in die Somaliese hoofstad ontvoer is.
"Helikopters het Al-Shabaab om 02:00 vanoggend aangeval. Twee burgerlikes is in die kruisvuur dood," het Ahmed Omar Mohamed, adjunkvoorsitter van die laer Shabelle-streek, aan Reuters gesê.
'n Verteenwoordiger van Al-Shabaab, wat nie sy identiteit bekend wou maak nie, het gesê die groep het 'n skietgeveg met Franse soldate gevoer.
Aanvanklike berigte het nie duidelikheid gegee oor die lot van die gyselaar nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters