Franse president lieg, sê Merkel
2010-09-18 07:30
Den Haag – Pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk lieg.
Dít is die implikasie van ’n verklaring wat die woordvoerder van die Duitse bondskanselier, dr. Angela Merkel, Donderdagaand ná ’n spitsberaad van die Europese Unie (EU) in Brussel uitgereik het.
Dit volg op ’n skerp woordewisseling tussen Sarkozy en José Manuel Barroso, voorsitter van die Europese Kommissie – die EU se uitvoerende orgaan – tydens middagete.
Die bron van al die rusies is die gedwonge deportasie van sigeuners uit Frankryk. Kritici meen dit oortree EU-wette en die Franse republikeinse ideaal omdat dit ’n etniese groep as sodanig teiken, pleks van individue wat oortree.
Tydens middagete het Sarkozy luidens berigte Barroso ingevlieg oor ’n vroeëre uitspraak van die EU-kommissaris van justisie en menseregte, Viviane Reding, waarin sy onthul het dat twee Franse ministers haar oor die sigeunerkwessie mislei het.
Hulle het haar verseker die deportasie is nie teen die sigeuners as etniese groep gemik nie, maar ’n regeringsdokument wat vandeesweek uitgelek het, het gewys dat dit juis wel die geval was.
Reding het die Franse optrede toe by implikasie met die Nazi’s se optrede teen sigeuners in die Tweede Wêreldoorlog vergelyk, maar dit later deels teruggetrek.
Volgens ooggetuies wat in die Europese media aangehaal word, het ’n woedende Sarkozy Barroso verwyt: “Jy het Frankryk in sy hart geraak!”
Sarkozy het ’n verskoning geëis. Barroso het geweier, waarna ’n skerp woordewisseling gevolg het.
Ná die beraad het Sarkozy op ’n nuuskonferensie gesê Merkel het hom vertel Duitsland gaan ook teen sigeuners optree. “Ons sal sien watter gevolge dit vir die Duitse politiek het,” het hy emosioneel aan verslaggewers gesê.
Merkel was toe reeds op pad huis toe. Haar vliegtuig het skaars in Berlyn geland, of haar woordvoerder, Steffen Seibert, het ’n verklaring uitgereik dat sy geen enkele woord met Sarkozy oor die sigeuners gewissel het nie.
Merkel se minister van buitelandse sake, Guido Westerwelle, het Vrydag op Duitse radio op diplomatiese wyse van ’n “misverstand” aan Sarkozy se kant gepraat.
Hy – soos Barroso voor hom – het wel gesê Reding het in haar vergelyking tussen Sarkozy en die Nazi’s te ver gegaan
- Die Burger