Franse gyselaars waarskynlik nog nie gered
2013-02-21 18:00
Yaounde – Die lot van ‘n Franse familie wat in Kameroen ontvoer is, was Donderdag nog onseker nadat ‘n minister van Kameroen ontken het dat hulle bevry is.
‘n Franse minister het ook sy bewering dat hulle lewend gevind is teruggetrek.
Hoop vir die sewe lede van die familie – ‘n paartjie, hul kinders, wat onderskeidelik vyf, agt, 10 en 12 is, en die kinders se oom – het gekom nadat ‘n militêre bron van Kameroen gesê het hulle is ongedeerd in Nigerië gevind.
“Hulle is verlate in ‘n huis in Dikwa” in die noorde van Nigerië, sowat 100 km van die grens met Kameroen, gevind, het die bron gesê.
Kader Arif, Frankryk se minister vir oorlogsveterane, het die inligting bevestig , maar het later gesê hy het bloot mediaberigte bevestig en sê daar is “in hierdie stadium geen amptelike bevestiging nie”.
Kameroen se minister van kommunikasie, Issa Tchiroma Bakary, het gesê: “Dit is ‘n wilde gerug. As dit waar was, sou Kameroen se regering reeds die inligting aan Frankryk gegee het.
Frankryk se ministerie van buitelandse sake sê hy kon nie die vrylating bevestig nie en het gewaarsku teen die “verspreiding van voortydige inligting”.
‘n Veiligheidsbron naby aan die saak in Nigerië sê daar is “ernstige twyfel” oor of die familie bevry is.
Die familie is Dinsdag deur ses gewapende mans op drie motorfietse ontvoer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP