Franse burgers gevra om Kameroen te verlaat
2013-02-20 16:51
Yaounde – Frankryk het Woensdag sy burgers wat in die verre noorde van Kameroen woon aangeraai om die gebied “so vinnig moontlik” te verlaat ná die ontvoering van ‘n Franse familie van sewe.
Die ministerie van buitelandse sake het verder ook gewaarsku teen reis in die gebied, insluitend Kameroen se grense met Nigerië en Chad.
Die ontvoering van die Moulin-Fournier familie kan verbind word met Frankryk se ses week lange militêre veldtog om Islamitiese ekstremiste uit die noorde van Mali te dryf, het Jean-Yves Le Drian, die minister van verdediging, gesê.
“Hierdie is groepe wat gehoor gee aan dieselfde fundamentalisme, wat dieselfde metodes het, van Mali tot in Somalië en Nigerië... Hulle wil ‘n wettelose sone tussen die Golf van Guinee en Soedan skep,” het LeDrian gesê.
Altesaam 15 Franse burgers is reeds in Afrika ontvoer. Sewe mense word in die Sahel-streek aangehou deur militante groepe wat bande met Al-Kaïda het en een is deur Ansaru, wat in Nigerië gebaseer is, ontvoer.
Die drie volwassenes en vier kinders is vroeg Dinsdag ontvoer terwyl hulle op ‘n reis in die Waza Nasionale Park in die verre noorde van Kameroen was. Hulle is daarna oor die grens geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA