Frankryk vra VN se ingryping in Mali
2013-02-07 18:00
Gao – Byna ‘n maand nadat Frankryk se militêre ingryping in Mali begin het om die land se Islamitiese ekstremiste uit te dryf, oorweeg die land om sy troepe te onttrek.
Dit kom nadat die land Donderdag die Verenigde Nasies gevra het om vredestroepe gereed te kry om oor te neem.
Frankryk se 28 dae lange ingryping het die rebelle wat met Al-Kaïda verbind word, wat die noorde van Mali vir 10 maande beheer en gedreig het om die hoofstad binne te val, grotendeels na die bergstreke in die noordooste verdryf.
Franse troepe word egter steeds aangeval in gebiede wat ingeneem is, en Parys is gretig om beheer aan die VN oor te gee te midde vrese van ‘n verlengde opstand.
Die Franse ministerie van verdediging het Donderdag gesê die ingryping in sy voormalige kolonie het Frankryk reeds £70 miljoen gekos, met die syfer wat daagliks met £2,7 miljoen styg.
Jean-Yves Le Drian, Frankryk se minister van verdediging, sê rebelle het die troepe Dinsdag in Gao met vuurpyle aangeval. Sowat 700 militante van Al-Kaïda is tot dusver dood in die aanvalle.
“Hierdie is ‘n regte oorlog, met groot verliese, maar ek gaan nie betrokke raak in ‘n rekeningkundige oefening nie,” het hy gesê ná hy oor die dodetal uitgevra is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP