Fop-verpleegster gryp baba
2009-12-02 13:14
Beijing – Die polisie het ‘n vrou in hegtenis geneem wat haar glo as ‘n verpleegster vermom het en toe ‘n pasgebore baba uit ‘n hospitaal gesteel het.
Volgens die amptelike Xinhua-nuusagentskap is die vrou in die suide van China vasgetrek nadat sy die baba uit ‘n hospitaal in die noordelike provinsie van Shaanxi ontvoer het.
Na bewering het ‘n kringtelevisiekamera gehelp om die vrou vas te trek. Daarop kon duidelik gesien word hoe die vrou op 21 November met die baba in ‘n badkamer in die hospitaal inloop. Etlike minute later het sy weer uit die badkamer gestap, hierdie keer met gewone klere aan.
Die baba het geen beserings opgedoen nie en is glo in ‘n goeie toestand. Die vrou het glo erken dat sy onlangs 'n aborsie gehad het en dat sy spyt was daaroor.
–Sapa, AP