Fluitjieblaser-verslaggewer dood gevind
2011-07-18 21:57
Brittanje – Sean Hoare, die fluitjieblaser-verslaggewer wat bewerings rondom die wydverspreide News International-afluisterskandaal aan die lig gebring het, is dood gevind.
Volgens die polisie is Hoare se dood by sy huis in Engeland nie verdag nie en word geen gemene spel vermoed nie, het Brittanje se Press Association-nuusagentskap berig.
Hoare het in ‘n berig aan die New York Times gesê die afluistering van stemboodskappe word wyd gebruik en word selfs deur die News of the World-koerant, onder leiding van die gewese redakteur, Andy Coulson, aangemoedig.
Coulson, wat tot onlangs die kommunikasiehoof van die Britse premier, David Cameron, was, is in hegtenis geneem as deel van die ondersoek na die afluistering van stemboodskappe en bewerings van korrupsie in die polisie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP