Finansiële krisis: 28 miljoen werksgeleenthede verlore
2013-01-22 13:53
Genève – Die wêreldwye werkloosheidsyfer het verlede jaar met vier miljoen toegeneem na ‘n totaal van 197 miljoen mense, het die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) Dinsdag gesê.
Nog vyf miljoen mense sal die totaal na verwagting hierdie jaar na 202 miljoen laat styg.
Dit beteken dat nege miljoen mense binne twee jaar amptelik as werkloos geregistreer sal wees, terwyl die wêreldwye finansiële krisis, wat vyf jaar gelede begin het, al 'n totaal van 28 miljoen werksgeleenthede geëis het.
“Hierdie syfer beteken dat daar vandag 28 miljoen meer mense oor die wêreld heen is wat werkloos is as wat daar in 2007 was,” voor die krisis, het Guy Ryder, hoof van die organisasie, Maandag aan verslaggewers in Genève gesê.
Verlede jaar se werkloosheidsyfer het nader gekruip aan die rekord van 199 miljoen wat in 2009 in die ergste fase van die krisis bereik is, ”maar ons sal daardie rekord in 2013 oortref,” het ‘n kenner in die organisasie, die arbeidsarm van die Verenigde Nasies, aan AFP gesê.
Die werkloosheidsyfer sal na verwagting in 2014 met nog drie miljoen styg en kan teen 2017 op 210,6 miljoen te staan kom, het die organisasie gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP