Filippynse magte red Chinese ontvoerde
2012-09-21 17:37
Zamboanga, Filippyne – Filippynse sekerheidsmagte het Vrydag 'n Chinese man gered wat vroeër die jaar ontvoer is en vyf Islamitiese militante gedood gedurende 'n klopjag in die suide van die land, het die polisie gesê.
Lin Yuankai was ongedeerd ná 'n gesamentlike reddingspoging deur die vloot en polisie, wat 'n oefenkamp van die ekstremistegroep Abu Sayyaf in die bergagtige buitewyke van die hawestad Zamboanga bestorm het, het Napoleon Estilles, die streekspolisiehoof, gesê.
"Die slagoffer het na die polisiemag gehardloop en geskree, 'Chinees! Chinees!'," het Estilles gesê.
Lin, wat vir 'n Chinese metaalhandelaar in die suidelike streek Mindanao werk, is in Junie in die nabygeleë Zamboanga-Sibugay-provinsie saam met 'n ander man uit hulle woonstel ontvoer.
Die tweede ontvoerde, Lu Jian, is verlede maand in Zamboanga bevry ná onderhandelings tussen sy maatskappy en die ontvoerders.
Vyf ontvoerders van Abu Sayyaf is in die klopjag gedood, insluitend 'n vrou, het Estilles gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP