Filippyne: Skieter brand los by mark
2013-01-04 08:12
Manila – Drie mense is dood toe 'n skieter Vrydag by 'n besige mark in die Filippyne losgebrand het, het die polisie gesê.
Die skieter het met 'n pistool begin skiet by 'n mark in Kawit, ongeveer 40 km suid van Manila, het Jaime Rollon, die distrikspolisiehoof, gesê.
"Hy het skielik mal gegaan. Hy het net op enigiemand geskiet, omstanders, verkopers. Die eerste persoon wat gewond is, was een van sy familielede," het Rollon aan AFP gesê.
Drie mense is volgens Rollon in die skietery dood, en minstens twee ander is gewond. Die polisie is besig om by hospitale uit te vind of daar nie meer sterftes was nie.
Rollon het die verdagte geïdentifiseer as 'n plaaslike inwoner genaamd Ronald Pae, maar het gesê sy motief is nog nie bekend nie.
Hy het gesê Pae is ook doodgeskiet, maar kon nie duidelikheid gee oor wie hom doodgeskiet het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP