Filippyne: Dodetal styg ná aardbewing
2012-02-06 17:06
Manila – Minstens 43 mense is dood nadat 'n sterk aardbewing in sentraal-Fillipyne Maandag getref en geboue en huise verwoes het.
Altesaam 29 mense is weens grondverskuiwings oorlede, terwyl tien ander dood is nadat hulle deur geboue getref is wat ineengestort het.
Vier ander mense is in ander dele van die Filippynse eiland Negros oorlede, wat ook gebuk gaan onder kragonderbrekings sowel as beskadigde paaie en brûe.
Die aardbewing van 6.8 het ook grondverskuiwings in Guihulngan, 'n dorp met ongeveer 180 000 mense, in Negros se Oriental-provinsie, veroorsaak.
Dertig huise is onder die grondverskuiwings begrawe en talle inwoners is vasgekeer, het Ernesto Reyes, premier, gesê.
"Hulle situasie lyk nie baie goed nie. As jy deur 'n grondverskuiwing vir een of drie ure bedek word, hoe kan jy asemhaal?
"Ons hoop net vir die beste en dat daar oorlewendes sal wees," het hy gesê.
Reddingswerkers het pikke en grawe gebruik in hul soektog na oorlewendes.
Minstens 100 mense is in die aardbewing beseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP