Familiemoord: Bomeenheid by slagoffers se huis
2012-09-10 14:15
Londen – ‘n Bomeenheid is na die huis van ‘n Britse familie wat in die Franse Alpe doodgeskiet is, uitgestuur, het Sky News berig.
Die polisie het twee paaie buite Saad al Hilli se huis in Claygate, Surrey, afgesper weens “kommer” oor items wat in die huis gevind is.
“Ons kan bevestig dat die gebied rondom die eiendom wat afgesper is nou groter is weens kommer oor items wat by die adres gevind is,” het die polisie in Surrey in ‘n verklaring gesê.
“Bure in die onmiddellike omgewing word tydelik ontruim.”
Intussen is die bejaarde vrou, wat ook in die aanval in Frankryk doodgeskiet is, as die ma van al Hilli se vrou geïdentifiseer, het die Franse polisie gesê.
Die onbekende Sweedse vrou, haar dogter Iqbal en dié se man, al Hilli, se lyke is Woensdagmiddag in Chevaline in die Franse Alpe gevind.
Al drie is verskeie kere geskiet en almal het twee skietwonde in die kop gehad.
Die ouerpaar se twee dogters het die aanval oorleef.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter