Familie skuldig aan 'eermoorde'
2012-01-30 16:10
New York – 'n Kanadese hof het drie lede van 'n familie, wat oorspronklik van Afganistan is, skuldig bevind aan die moorde op vier vroulike familielede.
'n Jurie het Sondag vir Mohammad Shafia (58), sy vrou Tooba Yahya (42) en hul seun Hamed (21) van Montreal, Kanada skuldig bevind op vier aanklagte van eerstegraadse moord nadat hulle Shafia se dogters en sy eerste vrou vermoor het.
Regter Robert Maranger het gesê hul konsep van "eer" het "absoluut geen plek in 'n beskaafde samelewing nie".
Geeti (13), Sahar (17), Zainab (19) en Shafia se eerste vrou, Rona Amir Mohammad (52), se lyke is in 2009 in 'n motor in 'n kanaal in Kingston gevind.
Staatsaanklaers het aangevoer die susters het die konserwatiewe familie in oneer gebring met hul uitlokkende kleredrag, die feit dat hulle geweier het om hul kopdoeke (hijabs) te dra en ook die feit dat hulle kêrels gehad het. Rona Amir Mohammad het probeer om hulle te beskerm.
Indien 'n mens skuldig bevind word aan eerstegraadse moord, moet 'n tronkvonnis van 25 jaar eers uitgedien word voordat 'n mens in aanmerking vir parool kan kom.
Die drie verdagtes, wie se verhoor tien weke geduur het, het skuld ontken ten spyte van opnames waarin Mohammad Shafia gesê het hy hoop die duiwel ontlas op hul grafte.
Rob Nicholson, minister van justisie, het in 'n verklaring gesê "eermoorde" in Kanada is "barbaars en onaanvaarbaar".
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA