Familie kry Everest-man se lyk ná dae
2011-05-24 09:15
Katmandoe – Die lyk van ’n Japanse klimmer wat op die berg Everest dood is, is na die Nepalese hoofstad gebring.
Takasji Ozaki (59) het op 12 Mei gesterf, net ’n paar honderd meter van die spits. Hy is waarskynlik dood weens hoogtesiekte, ’n algemene oorsaak van die dood op hoogtes waar suurstofvlakke laag is en uiterste weersomstandighede heers.
Ozaki se lyk is gedra van waar hy gesterf het (op ’n hoogte van 6 500 m) en toe aan ’n helikopter gehys.
Sy lyk is Maandag na ’n hospitaal in Katmandoe geneem waar familie en vriende dae lank gewag het.
Ozaki is die derde klimmer wat vanjaar gesterf het terwyl hulle die wêreld se hoogste piek probeer klim. – Sapa-AP
- Beeld