“Facebook-vlugteling" vasgetrek
2010-01-13 15:57
Londen - ’n Misdager wat die Britse polisie via Facebook uitgetart het, is vier maande nadat hy uit die tronk ontsnap het, wéér deur die polisie in hegtenis geneem.
Craig "Lazie" Lynch (28) het oor die afgelope paar maande ‘n kultusfiguur weens sy uitdagende "status updates" op die sosiale network geword.
Lynch is deur die media as die "Facebook-vlugteling" gedoop.
Op sy Facebook-foto staan hy en wys middelvinger.
Hy het oor ’n kort tydperk duisende “vriende” van reg oor die wêreld gemaak.
Daar was ook ‘n aparte Facebook-blad, wat heet “Waar is Craig 'Lazie' Lynch?".
Op dié blad het hy gedurig wenke deurgegee wat moontlik tot sy inhegtenisneming kan lei.
Lynch was besig om ‘n vonnis van sewe jaar tronkstraf te dien vir verskeie inbrake.
Hy het egter daarin geslaag om in September 2008 vanuit die gevangenis in Suffolk, Engeland te ontsnap.
Hy staar nou ‘n langer vonnis in die gesig weens sy ontsnapping.
Lynch, wat Dinsdagaand in Kent vasgetrek is, sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn.
’n Woordvoerder vir die metropolitaanse polisie in Londen het bevestig dat Lynch weer gevang is. Daar is egter nie bevestig of die booswig se "wenke" op Facebook hulle in hul taak gehelp het nie.
- Sapa-AFP