Evangelis gaan 'oordeelsdag' op TV volg
2011-05-20 08:47
San Francisco – Die Amerikaanse evangeliese uitsaaier wat voorspel die oordeelsdag vind Saterdag plaas, het gesê hy beplan om naby die televisie of radio te wees om die ontvouende apokalips te monitor.
Harold Camping (89) het al voorheen voorspel Jesus Christus gaan in 1994 terugkeer.
Die hoof van die Christen-radionetwerk Family Stations Inc is egter seker ’n aardbewing sal die aarde Saterdag skud, waarna die ware gelowiges na die hemel geneem sal word.
Die agtergeblewenes sal die vernietiging van die wêreld oor ’n paar maande beleef.
Pamflette met die boodskap van die oordeelsdag is so ver as die Filippyne uitgedeel.
Camping het aan Reuters gesê hy gaan Saterdag tuis saam met sy vrou deurbring.
“Ek gaan waarskynlik naby die TV of radio of iets wees. Ek stel belang om te sien wat aan die ander kant van die wêreld gebeur sodra dit begin.” - Reuters
- Die Burger