Euro het net 3 weke om gesond te word
2011-11-18 07:01
Den Haag – Die 17 lande van die eurosone het drie weke om die finansiële krisis te besweer. As dit nie gebeur nie, gaan die euro as betaalmiddel verdwyn.
Met dié boodskap aan die Europese parlement het José Manuel Barroso, president van die Europese kommissie – die “regering” van die Europese Unie (EU) – ’n taboe verbreek. Tot dusver is hoogstens gepraat oor die moontlike uitskop van één land, Griekeland, uit die eurosone, maar Europese leiers het die laaste weke hoog en laag gesweer die euro sal bly voortbestaan.
Daarmee het Barroso presies aangedui hoe naby aan ’n katastrofe Europa staan. Verskeie ekonomiese kenners het die laaste tyd uiteengesit dat ’n einde aan die euro die ineenstorting van die EU sou beteken.
Barroso het gesê die vasteland het nou voor “ ’n egte sistemiese krisis” te staan gekom. “Sonder groter integrasie, konvergensie en dissipline sal ons nie ’n gemeenskaplike munteenheid kan handhaaf nie. Die uur van waarheid het aangebreek.”
Dit beteken selfs die verdrag waarop die EU berus, moet gewysig word.
Herman van Rompuy, president van die EU, het Barroso gesteun en gesê die EU-regeringsleiers moet op hul volgende spitsberaad op 9 Desember “ingrypende besluite” neem. As dit nie gebeur nie, kan die stabiliteit in die euro-sone nie gewaarborg word nie.
Barroso en Van Rompuy wil planne aan die regeringsleiers voorlê waarvolgens hulle die reg kry om oor mekaar se begrotings toesig te hou en strafmaatreëls uit te deel aan dié wat nie finansiële dissipline handhaaf nie.
Intussen het Jean-Claude Juncker, voorsitter van die euro-sone en premier van Luxemburg, die Duitsers in ’n onderhoud met die Duitse koerant General-Anzeiger gewaarsku hulle moenie so ’n meerderwaardige toon oor die krisis hê nie. Duitsland het ’n groter staatskuld as Spanje en kan self in die moeilikheid kom, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger