Erge storms tref Brasilië
2009-09-09 04:04
Brasilië - ‘n Reuse-storm wat die suide van Brasilië getref het, het die lewe van vier mense geëis en veroorsaak dat die Sao Paulo-lughawe sy deure moes sluit.
Die sterftes het in Santa Catarina plaasgevind waar winde teen sowat 100 km/h gewoed het. Sowat 90 huise is ook tydens die storm verwoes.
Volgens die staat is rondom 64 mense beseer, waarvan 40 in die hospitaal opgeneem is. Daar word verwag dat altesame 370 huise deur die storm beskadig is.
Verskeie dorpies se water- en elektrisiteittoevoer is afgesny. Reddingswerkers is uitgestuur om bystand te bied waar hulle kan.
In die stad van Sao Paulo het die storm die lug so donker gemaak dat dit soos nag gelyk het, beweer ooggetuies.
– Sapa, AP