Erge geweld in Sirië eis 47
2012-02-08 12:11
Beiroet – Minstens 47 mense is dood nadat Siriese magte Woensdag dele in die sentrale provinsie van Homs aangeval het, het aktiviste gesê.
“Die sekuriteitsmagte het die al-Khalidiyeh, al-Inshaat en Bab Amr-woonbuurte binnegestorm en het woongebiede en hospitale geteiken,” het Omar Idibi, woordvoerder van die Siriese Local Coordination Committees aan dpa in Beiroet gesê.
“Oorspronklike berigte uit Homs sê 47 is dood en groot hoeveelhede mense is beseer en kan nie by die hospitaal uitkom nie,” het hy bygevoeg.
Troepe van die regering het verskeie beseerde mense in die hospitaal waar hulle behandel word in hegtenis geneem, het hy gesê.
Die dele wat geteiken is, was die middelpunt van teen-regering-betogings sedert die opstand teen pres. Bashar al-Assad in Maart uitgebreek het.
Die aanval kom ‘n dag nadat die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, gesprekke met Assad gehou en beloof het om pogings aan te wend om die krisis op te los.
Assad het laat Dinsdag gesê dat hy “enige pogings tot ‘n oplossing vir die krisis verwelkom,” het die staat se nuusagentskap SANA berig.
Volgens die Verenigde Nasies is meer as 5 400 mense sedert middel Maart dood.
Die Syrian Observatory for Human Rights , wat die hoeveelheid sterftes gereeld opdateer, sê 6 800 mense is dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA