'Engel van die dood' pleeg selfmoord
2011-01-24 23:00
Hanover - ‘n Duitse dokter wat verhoor word nadat sy na bewering 13 hospitaalpasiënte deur middel van dwelm-oordosisse doodgemaak het, is Maandag dood gevind.
Volgens die polisie het sy blykbaar selfmoord gepleeg deur self ‘n oordosis dwelms te neem.
In ‘n voorlopige bevinding verlede week het die hof gesê dit is waarskynlik dat Mechthild Bach (61), in die Duitse media bekend as “Mechthild B” en “Die engel van die dood”, aan moord skuldig bevind sal word. Bewyse is gelewer dat twee van die pasiënte ‘n sterk wil gehad het om voort te leef en gehoop het dat hulle binnekort sonder kanker sou wees.
“Sy het selfmoord gepleeg. ‘n Vriend het haar gevind,” het Matthias Waldraff, haar regsverteenwoordiger, gesê.
Bach se hospitaal het die polisie gekontak nadat hulle ongewoon hoë gebruik van morfien en valium opgemerk het in die kankereenheid van die hospitaal in Hanover waar sy gewerk het.
Die polisie het haar dood bevestig. Sy was vry op borgtog tydens haar verhoor.
“Om haarself dood te maak, was nie bedoel as ‘n skuldbekentenis nie,” het Waldraff gesê. Hy sê sy het só opgetree om dat die uitkoms hopeloos was. Die verhoor duur reeds 15 maande en sou na verwagting tot in 2012 aanhou.
Bach het in die hof gesê sy het die dwelms bloot gebruik om pyn te verlig by die sterwende pasiënte.
Die regter in die verhoor het egter gesê geeneen van die ses pasiënte wat tot dusver in die hof bestudeer is, is van natuurlike oorsake dood nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA