Empire State-skietery: Omstanders dalk deur polisie geskiet
2012-08-24 22:00
New York – ‘n Ontevrede voormalige werker by ‘n klerewinkel in Manhattan het Vrydag ‘n eks-medewerker buite die Empire State-gebou geskiet voordat die polisie hom doodgeskiet het.
Altesaam twee mense is dood en nege is beseer in die voorval, het New York se polisiekommissaris, Ray Kelly, aan ‘n nuuskonferensie gesê.
Die FBI het reeds vroeg gesê dit lyk nie of dit ‘n voorval van terrorisme was nie.
Die skieter is geïdentifiseer as die “ontevrede voormalige werker” Jeffrey Johnson (53) en sy slagoffer was 41 jaar oud, het Kelly gesê.
Kelly sê die man het ‘n 45 kaliber handwapen gebruik met ‘n magasyn-kapasiteit van agt rondes en het sy eks-kollega van Hazan Imports “drie keer” in die kop geskiet.
Die skieter het sy vuurwapen glo in ‘n sak gesit en probeer vlug, maar hy is deur twee polisiebeamptes voorgekeer wat deur ‘n bouwerker van die voorval ingelig is, het die stad se burgemeester, Michael Bloomberg, aan die nuuskonferensie gesê.
“Die oortreder het sy vuurwapen op die polisie gerig en het hulle probeer skiet,” het Bloomberg gesê.
“Die polisie het teruggeskiet en hy is dood.”
Dit was onduidelik of die gewapende man tyd gehad het om op die polisie te skiet en sommige van die skietwonde kon moontlik veroorsaak gewees het deur dwaalkoeëls van die polisie, het die burgemeester gesê.
“Sommige mense is moontlik per ongeluk geskiet.”
– Volg Nuus24 op Twitter