Empire State-gebou: nee vir Moeder Teresa
2010-06-09 10:32
New York – New York se Empire State-gebou sal nie verlig word vir die eeufeesviering van Moeder Teresa nie. Nou is Katolieke leiers woedend.
“Hulle is skynheilig! Hulle het ‘n vyandige gesindheid teenoor die Katolieke,” het Bill Donohue, leier van die Katolieke Bond vir Geloof- en Burgerregte, gesê nadat hul versoek afgekeur is.
Dié gebou is al deur die sangeres Mariah Carey gebruik, uitgehuur vir hondeskoue en liefdadigheid vir kanker en is self op die 60ste herdenking van Kommunistiese China verlig. Maar die eienaars het geweier om die gebou te verlig ter ere van Moeder Teresa.
Donohue het gevra dat die baken op 26 Augustus vanjaar verlig word om die eeufeesviering van Moeder Teresa se geboorte te herdenk.
“Die aansoek is sonder verduideliking afgekeur,” vertel Donohue.
Volgens hom staan die gebou se eienaars 'soos ‘n rots' teen die Katolieke Bond asook die media en lede van New York se stadsraad.
Christine Quinn, die stadsraad se speaker het ook haar woede uitgespreek.
- SAPA