'Ek’s te oud vir soveel seks' – Berlusconi
2011-03-16 21:00
Rome - Premier Silvio Berlusconi het met die vyand aan tafel gesit en aan ‘n opposisie-koerant gesê hy is te oud om al die seksuele dade waarvan hy beskuldig word, te kon pleeg.
Die 74-jarige leier sal volgende maand in die hof verskyn in verband met beskuldigings dat hy vir seks met ‘n Marokkaanse minderjarige betaal het en sy invloed gebruik het om dit toe te smeer.
In hofdokumente word 33 vroue, insluitende die tiener, geïdentifiseer wat glo betaal is om seks met Berlusconi te hê tydens partytjies by sy villa buite Milan.
"Al is ek ‘n snuiter... 33 meisies in twee maande klink na te veel vir selfs ‘n dertigjarige,” het die premier gesê in ‘n onderhoud wat Woensdag in La Repubblica, ‘n linksgesinde koerant wat ‘n veldtog lei wat Berlusconi se bedanking eis, gepubliseer is.
“Dis te veel vir enigiemand,” het Berlusconi gesê. Hy dring daarop aan dat hy ‘n meisie het. Die meisie se identiteit word geheim gehou. Hy sê sy was nog altyd by hom en sou nie toelaat dat hy die dinge doen waarvan hy beskuldig word nie.
“Sy sou my oë uitgeskeur het.”
Die verhoor begin op 6 April.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP